Air force pilots unhappy with salary increase
Date: 14 October 2003
English summary: Air force pilots are unhappy that they only received the general public servant salary increase and not an increase to bring their salaries more in line with the commercial sector as stipluated in their contract.
-----------------
Vlieëniers in lugmag vies oor hulle nie verhoging kry
Lugmagvlieëniers en die lugmag se topbestuur is haaks nadat die vlieëniers nié die afgelope jaar 'n ``skaarsheidsaanpassing'' op hul salarisse gekry het nie.
Dié aansporing, wat veronderstel is om lugmagvlieëniers se salarisse stelselmatig op gelyke voet met dié van hul kommersiële eweknieë te plaas, is selfs in hul kontrakte met die lugmag vervat.
Die vlieëniers beskuldig die lugmag daarvan dat hy leë beloftes maak en dat dit selfs op kontrakbreuk neerkom. Kommersiële vlieëniers het verlede jaar in die private sektor 'n verhoging van tussen R1 700 en R3 000 per maand ontvang, terwyl die lugmagvlieëniers net die algemene staatsdiensverhoging van 9% ontvang het. Die skaarsheidsfaktor moet ingevolge 'n aansporingstelsel elke jaar aangepas word volgens kommersiële tendense.
Volgens kol. John Rolt, woordvoerder van die weermag, moet die lugmag dié aanpassing uit sy eie begroting uitbetaal. Nadat die eerste aanpassing in 2001 gemaak is, kon dit in 2002 nié gedoen word nie omdat ``die direktoraat wat daarvoor verantwoordelik is, kort was aan personeel''.
Die vlieëniers sê daar is vir húlle gesê 'n private maatskappy doen die vergelykende studie. Die bevindings van dié maatskappy is nooit bekendgemaak nie. Volgens Rolt is die lugmag nou besig om aan vanjaar se aanpassing te werk. Verlede jaar se aanpassing sal in ag geneem word.
Submitted by Erika Gibson







