Indian fighter pilot swops Delhi MiG's for SA's Impala
Date: 14 October 2003
English summary: How a 52 year-old Indian air force pilot with more than 5 000 hours joined the SAAF as an instructor on the Impala when he retired from the IAF. Lt Col Rama Iyer is presently working on the training syllabus for the new Hawk trainer.
------------------------------
Indiese vegvlieënier verruil Delhi se MiG's vir SA se Impala's
Van Delhi in Indië tot in Hoedspruit en toe tot in Pretoria.
Dï t is die vreemde paadjie van 'n Indiese vegvlieginstrukteur wat die afgelope week by die Roodewal-bombaan buite die Louis Trichardt-lugmagbasis gehelp het met die aanbieding van die lugmag se jaarlikse lugkragdemonstrasie.
Lt.kol. Rama Iyer (52) het nooit kon dink dat sy loopbaan van 24 jaar in onder meer MiG 21-vegvliegtuie op instrukteurswerk vir Impala's in Hoedspruit sou uitloop nie.
Dit was brig.genl. Rod Penhall, eertydse Suid-Afrikaanse militêre attaché in Indië, wat Iyer aan die einde van sy loopbaan in die Indiese lugmag daarvan oortuig het dat hy te jonk is vir aftrede. Boonop het die Suid-Afrikaanse lugmag ervare vegvlieginstrukteurs gekort. Sedert sy "toer" na Hoedspruit is Iyer nou die senior offisier van vegtermagvoorbereiding in die lugmaghoofkwartier in Pretoria.
Hy is nou betrokke by die skryf van opleidingsillabusse vir die Hawk-vegopleidingsvliegtuie, wat aanstons die nuwe opleidingsvliegtuie van die lugmag gaan word.
Iyer het meer as 5 000 vliegure - alles in vegvliegtuie - agter die rug. Hy het selfs twee opleidingsjare in die Irakse lugmag agter die rug. Dit was toe Indië, die land met een van die grootste lugmagte ter wêreld, nog gereeld gehelp het met die opleiding van vlieëniers in dié land.
Oor sy belewenis van SuidAfrika erken hy dat die grootste kultuurskok was om van Delhi na Hoedspruit te verhuis. "Maar toe kom ek agter die Suid-Afrikaners het nog tyd vir mekaar en toe bly ons vreeslik lekker!" "In 'n reuselugmag soos dié van Indië is daar baie rigiede reëls en regulasies. Die lugmag hier is klein en heelwat meer ontspanne, wat dit heerlik maak om in te werk."
Submitted by Erika Gibson







