Vloot stil ná radio-antennas gesteel is Deur Erika Gibson 29 Januarie 2017 00:03
’n Lugfoto van die Silwermyn-basis in die Kaap waar antennas en koperkabels gesteel is. Foto: virtualglobetrotting.com
Toe die SAS Amatola verlede week nie met die vloot se kommunikasiesentrum op land kon kontak maak nie, was dit nie weens ’n tegniese probleem nie.
Dit was omdat diewe die antennas en koperkabels by die weermag se gesamentlike taktiese hoofkwartier by Silwermyn in Kaapstad weggedra het.
Dié kommunikasiesentrum hanteer alle kommunikasie en noodoproepe van die vloot se skepe en die lugmag se vliegtuie in die suide.
Kommunikasie met die SAS Amatola, wat op ’n buitelandse vaart is, word sedertdien via die vloot se basis in Durban en een van sy duikbote herlei.
Nou krap die militêre polisie kop oor hoe iemand die reuse-antennas reg langs die ondergrondse kommunikasiesentrum se ingang kon steel en verby die vloot se wagte by die hoofingang kon wegdra.
Volgens ingeligtes het die diefstal vermoedelike oor weke gebeur.
Die diewe het slote gegrawe om die koperkabels uit te haal.
Net twee antennas het oorgebly.
Die jongste diefstal is ontdek in dieselfde week waarin ’n inbreker wat verlede jaar wapens en ammunisie uit die ammunisiedepot in Simonstad gesteel het, vir ses en ’n half jaar tronk toe gestuur is. Duncan Gouvias (22) het erken hy het die wapens gesteel.
Die verhoor van Dilian Sewkumar (18) en Karabo Ramokgopa (19), sy medebeskuldigdes duur voort.
Dié inbraak is ook eers dae later opgemerk.
Die Militêre Polisie was Maandag die hele basis vol om die saak van die antennas te ondersoek.
Twee soldate is weggeneem vir ondervraging, het Rapport verneem.
Die jongste diefstal laat opnuut vrae ontstaan oor die veiligheid van militêre instellings.
’n Vroueweermagoffisier is op Kersdag verlede jaar net buite die hoofhek en enkele meters van die wagte af beroof nadat sy haar diensbeurt by Silwermyn voltooi het.
Dit is dieselfde hek waar die antennas vermoedelik uitgedra is.
Teen Vrydag was daar nog geen antwoorde op Rapport se amptelike navrae nie, aangesien v.adm. Mosiwa Hlongwane, hoof van die vloot, die antwoorde eers moes goedkeur.
Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, het gesê die saak is nie by die polisie aangemeld nie.
Die SAS Amatola het op 16 Januarie uit Simonstad vertrek op ’n uitgebreide buitelandse vaart langs die weskus van Afrika tot in Brittanje en Europa waar dit onder meer aan die herdenking van die SS Mendi sal deelneem.
Dié skip het in die Eerste Wêreldoorlog aan die Engelse kus gesink. 607 swart Suid-Afrikaanse troepe is dood.