The SAAF Forum
http://www.saairforce.co.za/forum/

Skool vereer vliegheld wat kinders gered het
http://www.saairforce.co.za/forum/viewtopic.php?f=2&t=9268
Page 1 of 1

Author:  Pepster [ 13 Jun 2017, 10:24 ]
Post subject:  Skool vereer vliegheld wat kinders gered het

http://www.netwerk24.com/Video/skool-vereer-vliegheld-wat-kinders-gered-het-20170609




Dit was ’n koel wintersoggend in Junie 1976 toe 2lt. Kevin Roy Winterbottom in ’n Impala Mk II-vegvliegtuig in Pretoria gesterf het.

Vrydag, presies 41 jaar ná die vliegongeluk, is ’n gedenkteken by die Laerskool Monumentpark opgerig ter nagedagtenis aan die jong vlieënier wat sy lewe gegee het om ander s’n te spaar.

Image

Die 22-jarige Winterbottom was op 9 Junie 1976 ná ’n oefenvlug op pad om op die Waterkloof-lugmagbasis te land. Die vliegtuig se enjin het opgehou werk nadat ’n voël daarin beland het.

Die aanloopbaan was nog nie in sig nie. Onder voor hom op die grond was daar ’n besige pad, en in die nabye omgewing die Laerskool Monumentpark en ’n woonbuurt.

Winterbottom kon homself op daardie oomblik nog red deur homself uit die sitplek te skiet, maar hy het besluit om in die vliegtuig te bly en dit eerder na ’n oop stuk veld te stuur sodat hy nie die skool of die buurt tref nie.

Image

’n Stuk van die Impala MkII waarin 2lt. Kevin Roy Winterbottom verongeluk het. Foto: Daan Cornelius

Toe hy naby die oop stuk veld kom, het die vliegtuig neergestort en dit was te laat vir hom om die uitskietstoel te gebruik. Hy het in die vliegtuig gesterf.

Ná sy dood is sy dapperheid met die Honoris Crux-medalje vereer. Volgens destydse koerantberigte was hy ongetroud en is hy deur sy ouers van Lynnwood Glen oorleef.

Sy ma was glo so getraumatiseer dat ’n lugmagdokter wat saam met offisiere die nuus gaan oordra het, haar onder verdowing moes plaas.

Ina Ferreira, ’n oudleerling aan die Laerskool Monumentpark, was die betrokke dag in die skool toe die ongeluk gebeur het. Sy was toe in st. 4 (gr. 6) en het ’n dagboekinskrywing oor die ongeluk gemaak.

“Vandag omtrent 11:20 het ’n Impala Mk II naby ons skool geval. Blykbaar het daar ’n voël in die enjin gekom. Die man wou nie uitspring nie want dan sou die vliegtuig dalk op die skool of op die huise geval het. Hy het sy lewe vir ander mense opgeoffer. Daar is min mense wat dit sal doen,” lui die inskrywing.

“Sy pa sê sy hele lewe was net vliegtuie gewees. Nou moes hy nog in ’n vliegtuig sterf.”

Image

Daan Cornelius sê die vliegtuig was heeltemal in stukke wat verspreid oor die gebied gelê het.Foto: Daan Cornelius

Image

“Sy opoffering is ’n inspirasie vir ons,” lui die boodskap op die gedenkteken wat ter nagedagtenis van 2lt. Winterbottom by die Laerskool Monumentpark in Pretoria opgerig is. Foto: Daan Cornelius


Die gedenkteken wat by die Laerskool Monumentpark opgerig is ter nagedagtenis aan 2lt. Kevin Roy Winterbottom. Foto: Deaan Vivier

Image

Deel 1: Die dagboekinskrywing wat Ina Ferreira, ’n oudleerling aan die Laerskool Monumentpark, gemaak het op die dag van die vliegongeluk.
















1/4



Terug in die hede, het die leerlinge van hierdie skool Vrydag as deel van ’n geskiedenisles die onthulling van die gedenkteken bygewoon.

Salie Kritzinger, die skoolhoof, sê die vliegongeluk is ’n deel van die skool se geskiedenis en dit is dus belangrik dat leerlinge daarvan leer.

“Dit is deel van die gr. 4-leerplan. Dit is natuurlik ook vir die kinders ’n goeie voorbeeld van ’n heldedaad. Winterbottom kon sy eie lewe bo dié van die skoolkinders gekies het, maar hy het nie.”

Lede van die nasionale lugmagvereniging en kennisse van Winterbottom het die onthulling bygewoon.

“Sy pa sê sy hele lewe was net vliegtuie gewees. Nou moes hy nog in ’n vliegtuig sterf.”

Kol. Mike Louw, nasionale visepresident van die lugmagvereniging, sê hy en Winterbottom was inwonende offisiere in die lugmagkollege.

“Hy was ’n baie gawe en opgewekte mens, en hy was vriendelik en sportief. Hy was ’n lang man en het nou en dan slot in die rugbyspan gespeel.”

Louw sê dit is belangrik om diegene te onthou wat die hoogste prys betaal het om ander veilig te hou.



2de lt. Kevin Roy Winterbottom.

Philip Weyer, nog ’n lid van die lugmagvereniging, was saam met Winterbottom in Pretoria Boys High School. Hulle het saam in die skool se doedelsakorkes gespeel en was later saam in die lugmag.

“Hy was twee jaar ouer as ek. Hy was in die algemeen net ’n nice ou, altyd vriendelik. Ek onthou nog die dag van die ongeluk. Ek het deur die venster gekyk en die swart rookwolke gesien, en toe hoor ons dit is Kevin.”

Die idee om ’n gedenkteken op te rig was dié van prof. Steve Cornelius, wie se kinders in dié skool is. “As dit nie vir dié dapper vlieënier was nie, sou die skool dalk vandag glad nie bestaan het nie,” het hy aan die leerlinge gesê.

Die gedenkteken is deur ’n oudleerling, Mireille Bezuidenhout, ontwerp.

“Ek onthou nog die dag van die vliegongeluk. Dit was ’n gewone dag. Omdat dit so naby aan die lugmagbasis is, het daar soos gewoonlik vliegtuie oor die skool gevlieg. Maar toe is daar een wat te laag vlieg, en ons het besef daar is moeilikheid.”

’n Groep oudleerlinge van die skool het die gedenkteken geborg.

Kritzinger het gesê die leerlinge kan nou elke dag verby dié gedenkteken loop en dink aan Winterbottom wat só ’n goeie voorbeeld vir almal is.

* Die fotograaf wat die wrak destyds afgeneem het, Daan Cornelius, was ook by die onthulling van die gedenkteken.

“Ek was by die werk in Pelindaba toe ek oor die ongeluk gebel is. Ek het dadelik stad toe gery om foto’s te neem.”

Hy was ’n inwoner van Monumentpark, en is die pa van Ina Ferreira, wat daardie dag in die skool was.

Page 1 of 1 All times are UTC + 2 hours
Powered by phpBB® Forum Software © phpBB Group
https://www.phpbb.com/